Ek is seker daar is dokters wat baie deeglik vir hulle pasiënte verduidelik presies hoe geboorte werk en wat jou elke opsie se voor-en nadele is. In my opinie, is hulle egter in die minderheid. Meeste van ons stap in die kraamsaal met min of geen inligting en hoop en vertrou dei dokters en susters om ons die geboorte van ons drome te gee. Dis egter gewoonlik nie die geval nie. Wil jy graag natuurlik en intervensie-vry kraam? The odds are not in your favour, mamma. Dis jammer, maar dit is die waarheid. Dis beter om self die proses te verstaan en navorsing te doen as om te vertrou dat jy die regte inligting gaan kry.
Ek het eers werklik begin oplees na my 1ste seuntjie se geboorte. Hier is ‘n lysie van goed wat ek wens ek het geweet voor ek die eerste keer geboorte gegee het. Ek sal op my intagram posts deel wat meer in diepte gaan, want daar is vroedvrouens en doula’s wat dit so mooi verduidelik!
Voorloper: Jy kan kraam. Jy moet glo in jou en alle vrouens se inherente vermoë om te kan kraam. Jou lyf is gemaak om kinders in die wêreld te bring. Dis regtig moeilik om ‘n vergelyking te kry vir kraam omdat dit so ‘n doodnatuurlike proses is waarvoor jou lyf letterlik aanmekaar gesit is, maar ek gaan probeer. Dink daaraan soos karbestuur. Ons almal leer iewers in ons lewe karbestuur. Jy kom nie op die ouderdom wat jy jou lisensie mag kry en dan sê jy: “oe nee dit lyk te moeilik, ek gaan nie eers prober nie, ek gaan sommer uit die staanspoor net ‘n chauffer aanstel wat my vir ewig orals gaan rondry” nie. Nee jy kyk om jou en dink, hoekom nie, duisende mense voor my het al leer bestuur en duisende na my gaan nog leer bestuur, ek sal ook kan. Jy sê ook nie: “Ek ken ‘n tannie wat in ‘n lamppaal vasgery het, daar is nie ‘n manier wat ek ooit gaan bestuur nie.” Nee, want jy weet ‘n uitsondering is nie die reël nie. Nou hoekom sê ons dit met geboorte?
Ek weet nie presies wat dit is wat vrouens laat twyfel het in hulle vermoë om geboorte te gee nie. Is dit die media se verdraaide uitbeelding van kindergeboorte? Is dit die mediese fraternity wat self muntslaan daaruit? Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat in ‘n wêreld waar ‘girl boss’ en ‘girl power’ mottos van ons tyd is, en waar feminisme ons letterlik vertel daar is NIKS wat ons nie kan doen nie, twyfel ons aan ‘n proses wat van die begin van tyd gebeur het. Ons stamp en stoei om motorwertuigkundiges, myners en alle ander tradisionele manlike werke te verrig, maar ons kan nie doen wat ons al vir eeue kon doen nie? (iewers is ‘n slang in die gras, maar hierdie post gaan nie oor al feminisme se foute nie, haha) Al wat ek wil hê, is dat jy in jouself moet glo.
7 stukkies inligting wat ek dink belangrik is om te weet voor jy geboorte gee
1. Jy kan nee sê vir enige en alle intervensie.
Ek wens iemand het net voor my geboorte vir my gesê dat daar nie reëls is nie. Dis nie ‘n reël dat jy ‘n drup moet aanhê, nie mag eet tydens kraam nie, ‘n enema moet vat, moet skeer of watookal nie. Dis net ‘n dokter se voorkeure. Ek wens ook ek het verstaan dat jy kan sê: “dankie maar nee dankie.” Net omdat jou dokter nie vrouens laat loop na 39 weke nie, beteken nie dis op navorsing gebaseer nie en jy mag sê: “ek verstaan die voor-en nadele maar ek wil graag my lyf nog kans gee voor ek induseer”. Maak ‘n drup jou ongemaklik? Wil jy nie vaginale ondersoeke hê tydens kraam nie? Verkies jy om nie ingespuit te word met sintetiese oksitisien nie? Wil jy graag op jou sy lê en kraam? Jy mag enigiets doen en vir enigiets nee sê! So maklik soos dit.
Hulpvaardige sinne. “Baie dankie dat suster vir my genoem het van die drup/kyk hoe ver ek onstluit is/watookal. Ek wil dit egter nie nou hê nie. Suster is welkom om dit weer te noem wanneer suster voel dis nodig.” “ Ek wil nie nou ‘n induksie hê nie. Dankie vir dokter se opinie, ek verstaan die voor en nadele van nog ‘n rukkie uithou, maar op hierdie stadium is dit wat vir my en baba die beste is.”
2. Dit is beter vir jou om nie op jou rug te lê en druk nie.
Jip, jou bekkenopening vernou as jy op jou rug lê en jou knieë oopmaak. As jy op jou rug lê werk jy ook teen gravitasie, in plaas van saam met gravitasie, wat die geboorteproses kan verleng. Baie babas wat ‘vassit’ kan gehelp word deur bloot net van posisie te verander. Kyk na die foto hieronder. Sien jy hoeveel groter is die bekken as jou knieë toe is.
As jy gemaklik is op jou rug, gaan voort, maar weet daar is beter posisies en soms help dit om van posisie te verander.
3. Jou lyf sal vanself begin druk.
Met my 1ste baba het die susters vir my gesê: “jy is 10cm ontsluit, jy kan maar druk!” En dan hou jy jou asem op, lig jou kop en druk! Is dit nie oorbekend nie? Dis hoe dit in al die flieks ook lyk. Ek het nooit gevoel om te druk nie en ek is spyt ek het nie geweet ek moes net wag vir my lyf om reg te wees nie. Dit sou kraam baie makliker gemaak het. As jy vir jou lyf wag om self die werk te doen, verminder jy jou kans op skeure en baarmoederprolaps.
4. Moenie jou asem ophou terwyl jy druk nie.
Jou kakebeen en jou pelviesevloerspiere alles aanmekaar gekoppel, en as jy jou kakebeen styf maak, dan word jou pelviesevloerspiere ook styf! So dis eintlik die verkeerdste ding om rooi in die gesig te word terwyl jy druk. Dit lei ook tot skeure. Werk saam met die kontraksies. (Kyk op my IG vir meer inligting)
5. ‘n ‘Due date’ is net ‘n raaiskoot
‘n Swangerskap word gewoonlik uitgewerk vanaf die eerste dag van jou laaste menstruasie + 40 weke en whalla daar is jou verwagte datum (due date). In Frankryk tel hulle 41 weke van die eerste dag van laaste menstruasie af en dis dan jou verwagte datum.
Maar navorsing wys dat vroue enigiets tussen dag 2 en dag 30 van hulle siklus ovuleer! Jip, jy ovuleer nie noodwendig op dag 14 nie en dit beteken konsepsie vind op verskillende dae plaas. Vat hierdie 2 vrouens, Magda en Susan. Hulle het albei hulle laaste menstruasie op 1 Februarie begin. Albei verwag om op 1 Maart hulle volgende menstruasie te begin, maar word swanger in Februarie. Magda het op 8 Februarie geovuleer en Susan op 21 Februarie. Albei se verwagte datums is 8 November. Maar kan jy sien dat Madga se babatjie eintlik 2 weke ouer is as Susan s’n. Dis hoekom dit nie reg is om sommer net op 38 weke te keiser nie, want jy is nooit 100% seker dis 38 weke nie! En Nicu statistiek wys dit.
Ten spyte van die feit dat ons meestal nie weet presies wanneer ‘n vrou geolvuleer het nie, en sonars nie akkuraat is nie, word baie keisersnee’s elektief op 37 of 38 weke gedoen. ‘n Babatjie wat elektief op 37 weke gebore word, het ‘n 4 maal hoër kans om in NICU opgeneem te word as ‘n baba wat op 39 weke gebore word. En op 38 weke is baba se kanse op respiratoriese probleme en NICU, 2 maal so veel as op 39 weke. Hier is ‘n goeie artikel oor die risiko’s van elektief te vroeg kraam.
Laastens gaan die gemiddelde eerste maal mamma op 41+1 weke in kraam in. 8 Dae ‘laat’? So hoekom jaag ons en stres oor baba wat voor 40 weke moet kom as dit eintlik die uitsondering is?
6. Jou omgewing is so so belangrik.
Ek dink ek het dit in my geboortestorieblog al gesê, maar ek het gedink om jou omgewing vir jou lekker te maak is ‘bougey’ of ‘new-age’. Ek het half gedink geboorte gaan gebeur, die hospitaal weet wat om te doen, ek gaan nou regtig nie musiek loop en speel nie. Maar hiers die ding, dit kom in by die feit dat ons nie meer mooi weer hoe geboorte werk en wat ons lywe se rol is nie. Oksitisien is die dryfveer agter geboorte. En oksitosien is die bindingshormoon, wat floreer onder bekendheid en warmte. ‘n Hospitaal met sy helder ligte en vreemde persone is net nie so goed vir die afskeiding van oksitosien nie. Ek hoop nie dit is te kras gestel nie, maar geboorte gee is baie soos seks (dieselfde hormoon -oksitosien- beheer dit). Ja, jy gaan dit kan doen op kliniese wit garde bed, met helder ligte en vreemdelinge wat elke nou en dan die proses onderbreek, maar dit gaan hoogs waarskynlik bietjie langer vat om te ontspan en nie heeltemal so lekker wees nie. En dis dieselfde met geboorte. As jy dit vir jou lyf lekkerder kan maak, hoekom nie? Probeer lekker lank by die huis bly en in ‘n rustige omgewing die grootste gedeelte van vroeë kraam deurbring. En dan as jy hospitaal toe gaan moenie bang wees om die omgewing vir jou te probeer aangenaam maak nie. As jy van musiek hou, speel musiek. As jy die ligte wil afsit, doen. Jou gunsteling kers? Hoekom nie? Hier is ‘n instagram post wat ek gemaak het wat mooi verduidelik wat is die rol van oksitosien en hoe jy oksitosienafskeiding in geboorte kan aanhelp.
7. Vir jou om ‘n optimale geboorte te hê, sal dit nie skade doen om jou eie navorsing ook doen nie.
As jy nie vreeslike hoë verwagtinge van geboorte het nie en nie eintlik omgee wat met jou gebeur nie, is dit seker nie nodig nie, maar vir my was dit belangrik om te weet wat gaan gebeur, wat my opsies is en wat die voor-en nadele van elke besluit vir beide my en die baba is. Ek was na die tyd spyt oor ‘n paar goed wat met my gebeur, en verwyt myself dat ek nie daaroor opgelees het nie. Ek weet wel van mammas wat glad nie gepla was nie, en wat glo wat jy nie weet nie, maak nie seer nie.
Hier is ‘n paar onderwerpe waaroor jy kan gaan oplees. (ek sal 1 of twee artikels se skakels deel, maar dis net ‘n begin)
- Verskillende maniere van pynverligting tydens geboorte
- Die voor-en nadele van ‘n epiduraal. (Hier en Hier is artikels)
- Die voor-en nadele van ‘n induksie. (Hier is ‘n artikel oor vrae om te vra voor ‘n induksie.)
- Episiotomy vs natuurlike skeur
- Pynmedikasie na geboorte (ek het byvoorbeeld daarteen besluit om enigiets te vat wat nie getoets is in borsvoedende mammas nie – lees die voubiljet)
Dis belangrik om vooraf te weet wat jou gevoel is oor sekere intervensies sodat jy weet waarvoor wil jy nee sê en waarmee is jy gemaklik om wel te ontvang. Jy kan nie ‘n ingeligte besluit maak as jy niks daarvan weet nie. In die middel van kraam kan niemand luister vir voor-en nadele van prosedures nie.
Laastens, dis jou geboorte, jy is die kliënt. As iemand jou huis vir jou bou, het jy lankal ‘n Pinterest board gemaak oor die styl waarop julle besluit het. Gestel jy het, na baie navorsing, besluit jou huis moet in ‘n neo-Gotiese styl gebou word, maar jou bouer beweer modern gaan beter lyk, so what, dis jou huis en jou styl. Jy gaan sê, wel ons het ‘n idee in ons kop en ons wil dit graag in hierdie styl hê, maar baie dankie dat vir jou opinie. In ‘n ander voorbeeld sal hy julle dalk afraai om goue vensterrame te hê omdat dit moeiliker is om te onderhou en jy gaan saam stem omdat dit nie vir jou so belangrik was nie en sy redenasie sin maak.
Selfde met jou dokter. Net omdat hy sê klim op die bed, beteken nie jy moet nie. Jy kan sê, jammer ou perd ek weet jys nie lus vir moeite nie, maar ek voel gemakliker staande, sittende/op my sy/in die bad, watookal.
Ek hoop jy kon iets leer!
Liefde, Renate