Voor my seuntjie gebore is, het ek opgelees oor geboorte en die stadiums van geboorte en het my ma en vriendinne baie vrae gevra. Maar daar is so baie wat ek intussen bygeleer het. Ek het gedink ek sal ‘n lysie maak van die dinge wat ek graag volgende keer anders wil doen!
- Ek sal nie op my rug lê en kraam nie! Het jy geweet jy hoef dit nie te doen nie? Ek ook nie. Toe hulle vir sê my dis tyd om te druk ek moet op my rug lê, het ek gaan lê. Ek het nie van beter geweet nie. Dis ‘n baie ongemaklike posisie en boonop is jou bekken kleiner as jy op jou rug lê. Jou bekken maak groter oop (so dis makliker om te kraam) as jy regop of handeviervoet is. Hier is ‘n instagram post wat dit verduidelik. Het jy geweet dat jy selfs met ‘n epiduraal regop kan kraam?
- Ek kan nee sê vir intervensies. Om die drup so vroeg vir my aan te sit was onnodig en het my baie gepla, ek kon net doodeenvoudig sê ‘nee dankie.’ Eers met meer navorsing het ek besef dat jy in beheer is van jou geboorte. Jy mag ja en nee sê vir intervensies.
- Ek sal graag wil hê my water moet vanself breek volgende keer. Dis ook deel van nee sê vir intervensies. Ek is nie spyt dat my water gebreek is in my eerste geboorte nie, ek is net lus vir ‘n baie natuurlike proses van geboorte volgende keer. Ons sal maar sien of hulle my nie dalk weer ompraat nie.
- Ek sal baie langer by die huis kraam. Dis ongemaklik by die hospitaal, veral as jy deur die nag kraam soos ek. Daar is nie plek vir jou man om te rus nie, so hy kry nie ‘n goeie nagrus in om jou te kan ondersteun nie. Dis gemakliker vir jou by die huis en oksitosien skei makliker af.
- Ek sal meer navorsing doen oor natuurlike pynverligting tydens geboorte. Ek het in kraam ingegaan en gedink: “Duisende vroue voor my het dit gedoen, dit kan nie onmoontlik wees nie!” Hoewel dit ‘n goeie idee is om selfvertroue te hê en te sê, “as iemand dit kan doen, is dit ek,” sal dit jou baie baat om bietjie asemhalingstegnieke te oefen. Ek is spyt ek het nie meer opgelees daaroor nie, want teen die einde, het ek net oorgegee en die kontraksies het beheer geneem. Terwyl as jy asemhaling-en ander tegnieke het kan jy in beheer bly van die kontraksies. Om jou omgewing vir jou so lekker as moontlik te maak, was ook iets wat ek nie gedoen het nie. Ek dink ek gaan volgende keer probeer om ‘n sagte liggie saam te vat of musiek of watookal. Ons sal kyk wat werk!
- Ek sal wag tot my lyf wil begin druk. Toe ek 10cm ontluit was, het die suster gesê, “dis reg jy kan nou maar druk.” As jou lyf reg is om te druk, sal hy self begin druk. Daar is baie voordele daaraan om te wag tot jou lyf reg is: Die druktyd is gewoonlik korter en jy het ‘n kleiner kans om te skeur. Jou lyf kan self jou baba uitkry sonder “coached pushing” (dit wat jy in die flieks sien, waar die dokter sê “druk 1, 2 ,3 tot by 10”) Ek kan nie glo hoe fantasties ons liggame geskape is nie. Hoe meer ek oplees en ander geboortestories lees, hoe meer staan ek verstom oor hoe min hulp ons lywe eintlik nodig het!
- Ek sal meer fotos neem. Ons het nie regtig fotos geneem nie, ek het gedink dis te privaat. Maar nou het ek nie een foto van my in kraam nie. Nie waar ek by die hospitaal aankom nie, niks. Ek sê nie ek sal alles afneem nie, maar ek is spyt daar is nie eers een foto van ons by die hospitaal of tydens kraam nie.
Het jy enige van hierdie gedoen tydens geboorte? Of enigiets anders wat jy dink baie gehelp het? Ek sal so graag wil hoor!
Liefde, Renate