Ek is baie passievol oor borsvoeding en wens elke mamma en baba kan die voorreg kry om borsvoeding te ervaar. Ek het baie blogs oor borsvoeding, soos byvoorbeeld, ‘hoekom dit belangrik is’ hier, ‘wenke vir die eerste week of twee’ hier. Jy kan ook in die soek funksie ‘borsvoeding’ intik en jy behoort almal te kan kry. Ek dink dis die moeite werd om te lees.
In elk geval, ek is nou besig om my tweede baba ook te borsvoed, en is midde in al die groeipyne wat daarmee gepaardgaan. Soos ek borsvoed, word ek net weer bewus van al die slaggate wat so baie mammas laat ophou borsvoed. Of omdat hulle dit glad nie verwag het nie, of omdat hulle nie besef dis normaal nie, of omdat hulle dit nie kan regmaak nie. Hoe dit ook al sy, ek wil nie hê jy moet onkant gevang word nie!
Hier is ‘n lysie van 5 goed wat jy dalk nie geweet het van borsvoeding nie.
- Jou ‘melk’ kom eers op dag 3 in. Die eerste twee of drie dae het jy kolustrum. Dit is ‘n ryk, geel vloeistof en so belangrik en goed vir baba. Lees hier meer oor kolostrum. Dis regtig vloeibare goud! Kolostrum is melk! Ek hoor so baie. “My melk het eers op dag 3 ingekom so ek moes formulemelk gee.” Nee! Dis hoe dit werk! Elke liewe vrou begin eers met kolostrum. Moet asseblief nie dink jy hoef byvoeding te gee nie.
- Jou borste gaan teer wees aan die begin. Ek het vaagweg gehoop dat mens se borste nie so seer gaan wees met die 2de baba nie, maar helaas, dit bly maar seer. Dit maak ook sin want dit is sagte vel wat ewe skielik baie wrywing moet hanteer. Meeste borsvoedingskonsultante sal vir jou sê dat as jou baba reg aan die bors vasgeheg is, dit nie seermaak nie. En hoewel dit waar is, voel ek dat jou borste ‘n rukkie vat om gewoond te raak aan ‘n baba wat daaraan drink. Dit is seer aan die begin! Maar dit gaan verby. Ek ken soveel mammas wat ophou na ’n week omdat dit seer is, maar as hulle net nog 2 dae uitgehou het, was dit verby! As jy weet dit gaan verby, is dit makliker om uit te hou. Op die keersy hiervan, as dit seer bly na ‘n week of so, is daar hoogs waarskynlik ‘n probleem met baba se ‘latch’. As baba nie mooi aan die bors ‘latch’ nie, veroorsaak dit erge pyn en jou tepels kan naand rou en bloederig raak. Die pyn sal mens deur die dak laat spring! Gaan sien asseblief ‘n borsvoedingskonsultant, mens kan dit gewoonlik maklik regmaak. Sodra jou lyf gewoond is aan borsvoeding is dit nie seer nie!
- Hoe gereeld jou baba drink is nie ‘n indikasie van hoeveel melk jy het nie! Daar is verskeie redes hoekom babatjies ewe skielik meer gereeld wil drink. Dalk voel hulle bietjie siek, is oorgestimuleer (borsvoeding help babatjies om te reguleer en aan die slaap te raak as hulle oorgestimuleer is) of groei net! Babatjies kry ook hier op 2 of 3 weke ‘n groeitydperk (growth spurt). Hulle borsvoed dan sommer elke uur (waar hulle vroeër dalk 3 ure kon gaan tussen voedings). Dit beteken nie jy het te min melk vir jou baba nie! Dis net normaal. As jou baba tevrede is en nat doeke het, het jy genoeg melk! As ek een ding in mamma kan oordra is dit om jou lyf te vertrou. Jy het melk, jy kan geboorte gee ens.
- Nageboortelike pyne. Nageboortelike pyne is tegnies kontraksies wat help om jou baarmoeder weer terug te kry na sy oorspronklike grootte. Dit gebeur gewoonlik wanneer jy borsvoed. Mens is skaars daarvan bewus met jou 1ste baba. Dit word egter erger met elke baba wat jy het. Ek kan omtrent nie onthou dat ek dit enigsins gehad het met my seuntjie nie. Met my 2de baba het ek vir 3 dae lank elke keer as ek geborsvoed het, hierdie ligte ‘kontraksies’ gehad. My ma (wat 5 kinders gehad het) se met my laaste boetie was dit so erg sy moes op haar tande kners. Ha so ek berei myself maar voor daarvoor vir die volgende babas. Soos alles gaan dit verby en is nie ‘n rede om nie te borsvoed nie (om die waarheid te se dis juis ‘n rede om WEL te borsvoed omdat jou baarmoeder vinniger na sy normale grootte terugkeer!), maar dit is wel iets om in gedagte te hou, anders kan dit jou onkant vang.
- Borsvoeding kom nie so natuurlik soos wat jy dalk dink nie. Borsvoeding is een van die natuurlikste dinge onder die son, dit is so oud soos die mensdom self. Maar dis nogtans nie net maklik nie. Beide jy en baba is nuut in hierdie proses en moet nog baie leer. Alhoewel babas direk na geboorte borsmelk kan ruik en weet dat hulle moet ‘latch’ is dit nog ‘n leerkurwe. Dit vat soms tyd vir baba om mooi diep en effektief te ‘latch’ en vir mamma om rustig te kan ontspan en gemaklik te raak met borsvoeding. Moenie moed verloor as dit nie dadelik vir jou ‘natuurlik’ voel nie. Glo my, later borsvoed jy die baba, staande, in die kombuis, terwyl jy met die een hand kos maak en ‘n selfoon tussen jou skouer en oor vasknyp en boonop ‘n kleuter wat klou aan jou been!
Lekker borsvoed!
Liefde,
Renate.
(foto: Alina Matveycheva op Pexels)